fbpx

Groot oorwinning vir Volksparty in Oostenryk

Deur on Okt 1, 2019

Nuuskommentaar 30 September

Die sentrumregse Volksparty van Oostenryk het in Sondag se vervroegde verkiesing ‘n historiese oorwinning behaal. Die party van Kanselier Sebastian Kurz, het met 5,7% tot 37,1% gegroei en die drie-en-dertigjarige Kurz, die jongste staatshoof in die wêreld, sal nou moet besluit met watter party hy ‘n koalisieregering gaan vorm.

Terwyl sentrum-regse en sentrum-linkse politieke partye in Europa oor die afgelope paar jaar wesenlike steun aan beter gedefinieerde linkse en regse partye afgestaan het, het Kurz nadat hy die leierskap van die Volksparty in 2017 oorgeneem het, die party herposisioneer en duidelik daarin geslaag om die steun van ‘n groot deel van die Oostenrykse bevolking te kry.

In die vorige verkiesing in Oktober 2017 het die Volksparty vyftien setels in die Oostenrykse parlement bygekry. Sondag het die party met nog 9 setels gegroei. Hulle is nou met 71 setels gemaklik die grootste party, met die Sosialiste wat verdere steun verloor het en nou slegs 42 setels oor het. Die groot verloorder van Sondag se verkiesing was egter die regse Vryheidsparty van Oostenryk. Dié party het van Oktober 2017 tot vroeg vanjaar in ‘n koalisie saam met die Volksparty regeer, maar dit het tot ‘n einde gekom toe die Vryheidsparty se leier in ‘n skandaal betrek is. Die Vryheidsparty se steun het Sondag met 9,9% tot 16,1% gedaal. Hulle het 21 setels in die Oostenrykse parlement verloor en is nou nie meer die tweede grootste party nie, maar wel met 30 setels die derde grootste party in Oostenryk.

Nog ‘n groot wenner van die verkiesing is die Groenparty wat in die vorige verkiesing te min stemme gekry het om toegang tot die Oostenrykse parlement te kry. Sondag het hulle 14% van die stemme gewen en daardeur 26 setels gekry.

Die groot vraag is nou met watter party Kurz ‘n koalisieregering gaan vorm. Die vorige regse koalisie tussen die Volksparty en die Vryheidsparty het die steun van ‘n groot deel van die Oostenrykse bevolking geniet en tot voor die skandaal is dit as ‘n baie suksesvolle koalisieregering bestempel. Oostenryk het streng stappe teen onwettige immigrasie geneem en ‘n realistiese beeld oor die rol van die Europese Unie is ook ingeneem. Oostenryk het ook gesonde verhoudinge met lande soos Hongarye en Rusland ontwikkel.

Terwyl peilings toon dat ‘n meerderheid van Oostenrykers weer ‘n koalisie tussen die Volksparty en Vryheidsparty verkies, word daar in die Oostenrykse media bespiegel dat Kurz ‘n koalisieregering met die Groenparty oorweeg. ‘n Afvaardiging van die Solidariteit Beweging wat die verkiesingsuitslae in Wene gemonitor het en ook Kurz se oorwinningstoespraak bygewoon het, het ook by sommige partylede van hierdie opsie verneem.

Terwyl ‘n koalisie tussen die Volksparty en Vryheidsparty op beleidspunte meer sin maak, kan dit moeilik wees om so ‘n koalisieregering saam te stel, veral nadat die val van die vorige regering tot slegte verhoudinge tussen die twee partye aanleiding gegee het. Sou Kurz met die Groenparty in koalisie gaan, sal hy egter gedwing word om beleidstoegewings te maak.

Wat Sebastian Kurz en die Oostenrykse Volksparty egter Sondag weer bewys het, is dat sentrumregse partye steeds verkiesings kan wen indien hulle ‘n sterk partybeeld ontwikkel en die wil van hul kiesers ernstig opneem. Kurz se invloed in Europa sal na Sondag se verkiesing wesenlik toeneem, veral in ‘n post Merkel-era.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist