Glo jy die media se politieke nuus?

Deur on Aug 26, 2019

Nuuskommentaar: 26 Augustus

Uit die leserskommentaar van lesers van die gedrukte en kubernuusmedia, kan maklik afgelei word dat daar wydverspreide opvattings is dat die media maar lekker kluitjies bak – veral as dit kom by politieke nuus.

Die redes vir die wantroue verskil van persoonlike ervarings waar die media die kat met berigte aan die stert beetgehad het, eie politieke subjektiwiteit, en natuurlik die oues, aanhangers van samesweringsteorieë en die ontkenners.

Wantroue in politieke beriggewing in die VSA staan op ’n hoogtepunt, met meer 54 persent van die Amerikaanse kiesers wat glo die media verkwansel kluitjies as dit by politieke nuus kom. In hierdie geval glo die Yanks dat die media probeer om van pres. Donald Trump ontslae te raak. Net 32 persent vertrou die akkuraatheid van die politieke nuus.

Die destydse leier van die Kanadese Heritage Party het lank tydig en ontydig verwys na peilings wat getoon het dat die gemiddelde Amerikaanse joernalis wat linkser is as die gemiddelde Amerikaanse kieser. Hierdeur het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die media hul posisie kunsmatig gebruik om hul kanse te benut om die linkse agenda voor te trek. Maar wat sou Suid-Afrikaners se waarneming wees oor die posisie hier te lande?

Moontlik die beste plaaslike voorbeeld van hoe ’n nuusmedium ’n politieke agenda kan probeer dryf was met Beeld se hoofredakteuskap in die persoon van Adriaan Basson. Hy het gou die reputasie gekry dat hy oorlog met sy lesers sou voer. Solidariteit het selfs met ’n lesersboikot teen die koerant begin. Hy is oplaas met die gebalanseerde Barnard Beukman vervang. Basson se omstredenheid het met ’n periode saamgeval waar die gedrukte media wêreldwyd lesers aan’t verloor was – ’n dodelike kombinasie.

Vroeër jare was koerante baie dikwels formeel die lyfblaaie van bepaalde politieke partye. Trouens, baie koerante wat deurgaans op ’n wins bedryf is, het spesiaal vir verliese tydens verkiesings begroot. Lesers was dikwels meer kwaad vir koerante oor die indruk dat blatant gesinspeel is dat lesers maar dowwerig is, en die redakteurs die publiek se intellektuele meerdere is, eerder as wat hulle kwaad was dat  die nuus dan dikwels blatant partydig aangebied was.

Dikwels was die opvattings nie korrek nie, en koerante was dikwels ook die slagoffers van die regering se weergawe van die nuus wat as teenvoeter vir die totale aanslag moes dien. Soms is koerante dikwels self verbied, terwyl ander bloot verdag gemaak is. Met die Wall Street ineenstorting was daar ’n Europese projek om deur moraliteit die politici en die media meer moreel te laat optree. Tydens die krisis, waar die media saam met die publiek teen die superryk manipulasie geveg het, is die media se bona fides aanvaar, en het veral bankbase weens bedenklike moraliteit onder skoot gekom.

Met die huidige katastrofiese brande in die Amasone, het pres. Jair Bolsonaro, nie-regeringsorganisasies daarvan beskuldig dat hulle die meer as gewoonlik hoeveelheid brande stig. Die media word hier milddadig ingespan om beide die regeringskant en die bewaringsaktiviste se kant te stel.  

Sonder ’n goeie en geloofwaardige media is die demokrasie in ’n land maar toiletpapierdun – laat staan nog koerantpapierdik.   


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist