Feministe moet rustig raak

Deur on Aug 30, 2019

Nuuskommentaar: 30 Augustus

Gesprekke en meningstukke op verskillende mediaplatforms skep die indruk dat daar `n nuwe  opkoms in feminisme is. Daar word onmiddelik geskerm dat hierdie nie `n ‘brand-jou-bra’ vorm van feminisme is nie maar eerder `n moderne beweging wat hulle beywer vir die gelyke regte van vroue.

Die “nuwe” beweging spog egter nie met nuwe of beter argumente nie. Voor daar egter na dié argumente gekyk word moet dit onmiddelik genoem word dat kritiek op feminisme nie kritiek op vroue is nie en nog minder `n argument is dat vroue nie in die werkplek hoort nie.

Natuurlik geniet die werkplek ook heelwat bespreking en miskien is dit dalk tyd dat daar anders na dié omgewing gekyk word. Tradisioneel het die man sy plek by die werk volgestaan terwyl vroue die huishouding aan die gang gehou het. Vandag is dit seker so dat daar meer mans in bestuursposisies as vroue is maar die redes daarvoor is verseker nie dieselfde as wat dit dekades gelede was nie. Professionele vroue staan nie vir enigiemand terug nie. In sommige gevalle verkies hulle om na hulle gesinne om te sien maar daar is ook diegene wat daarin slaag om werk en gesin met groot sukses te balanseer. Op daardie noot kan werkgewers hulself gerus afvra hoe hulle te werk kan gaan om dit vir loopbaanvroue makliker te maak om daardie balans te handhaaf.  En mans kan hulself ook afvra hoe hulle `n groter rol kan speel om dit vir hulle lewensmaats makliker te maak om `n gevoel van selfverwesenliking in die werkplek te bereik.

Terug by die, steeds gebrekkige, argumente van feministe.

So skryf een van die “nuwe” feministe dat sy ongelukkig is omdat die prysgeld vir die  2018 Wêreldbeker-sokkertoernooi vir mans $400-miljoen beloop het teenoor die $30-miljoen tydens 2019 se vrouetoernooi. Die syfers val vreemd op die oor as daar `n vergelyking tref word maar die oomblik as ons na die konteks kyk skets dit `n heel ander prentjie.

Ongeveer 3,572 miljard mense het die 2018 Wêreldbeker-sokkertoernooi gekyk terwyl die vroue Wêreldbeker-sokkertoernooi byna een miljard kykers gelok het. Dit is net so dat kykers meer belangstel in sekere sportsoorte as in ander. En meer kykers beteken meer en duurder advertensies. `n Maatskappy sou aansienlik duurder betaal vir `n advertensie gedurende die 2018 wêreldbeker as wat hulle in die een `n jaar later sou. Die adverteerders sou wel ook baie meer kykers bereik in 2018 as in 2019.

Maar soms is die situasie omgeruil. Die model Kendall Jenner het $22.5-miljoen oor `n twaalf maande tydperk verdien. Sy is tans die hoogs betaalde model in die wêreld. Die nommer een manlike model, Sean O’Pry het slegs $1.5-miljoen in dieselfde tydperk verdien. O’Pry kom nie eers naby wat modelle onderaan die top 10-lys verdien nie. Doutzen Kroes, wat nommer 10 op die lys is, het $8-miljoen oor `n jaar verdien. Steeds aansienlik meer as O’Pry se karige $1.5-miljoen. Weereens is hierdie, soos in die geval van die Sokker Wêreldbeker, nie `n diskriminerende besluit  nie maar `n ekonomiese een wat deur vraag en aanbod en die geleenthede wat dit skep bepaal word. Daar is bloot net `n groter vraag na vroulike modelle en die geleenthede waar hulle op die loopplank verskyn.

Soms moet feministe net rustig raak en na die ware toedrag van sake kyk en besef dat dit wat hulle as diskriminasie ervaar eintlik net goeie sakepraktyk is.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist