Europese verkiesing hou groot uitdagings vir Britse politiek in

Deur on Mei 15, 2019

Nuuskommentaar: 15 Mei

Twee maande gelede was Brittanje nog veronderstel om op 29 Maart uit die Europese Unie te tree en sou die land nie aan die Europese-verkiesing deelgeneem het nie. Intussen is die Britte se uittrede uit die Europese Unie tot Oktober uitgestel en woed daar ‘n verstommende verkiesingsveldtog waarin die politieke toneel in Brittanje behoorlik op sy kop gekeer word.

Met minder as twee weke voor die verkiesing is dit die Brexit Party, ‘n nuwe politieke party wat eers op 20 Januarie vanjaar opgerig is, wat in die peilings voorloop. Die Brexit Party het slegs een doel voor oë en dit is om te verseker dat die wil van Britse kiesers, dat Brittanje uit die Europese Unie moet tree, realiseer.

Oor die afgelope paar maande het die Britse Eerste Minister Theresa May en haar Konserwatiewe Party probeer om ‘n ooreenkoms met die Europese Unie vir Brittanje se uittrede te sluit. Die hele poging het klaaglik misluk weens die verdeeldheid in Tory-geledere oor die toekomstige verhouding tussen Brittanje en die EU.

Intussen het Theresa May ook gesprekke met die Arbeidersparty aangeknoop in die hoop dat ‘n skikking tussen ‘n deel van haar party en ‘n deel van die hoofopposisie tot ‘n meerderheidstem in die Britse parlement kan lei. Dit blyk toenemend dat daar ook niks hiervan gaan kom nie.

Miljoene Britte is met goeie rede moeg vir die wyse waarop Brexit hanteer is en mense is gefrustreerd met die gevolge wat die Brexit-drama op hul land se beeld en ekonomie het. Nigel Farage het reeds jare gelede die gesig geword van die veldtog om Brittanje uit die Europese Unie te neem. Nadat ‘n meerderheid van kiesers in 2016 ten gunste van uittrede gestem het, het Farage uitgetree as leier van sy party, die Verenigde Koninkryk Onafhanklikheidsparty.

In Januarie vanjaar het hy egter die Brexit Party opgerig en die nuutste peilings wys dat dié party tot 35% van die stemme in die komende Europese verkiesing kan kry. Dit is heeltemal moontlik dat meer kiesers vir die Brexit Party kan stem as wat die Konserwatiewe Party en die Arbeidersparty saam gaan kry.

In munisipale verkiesings vroeër hierdie maand het Britse kiesers hul eerste waarskuwingskote na die politici van die Konserwatiewe Party, en tot ‘n mindere mate die Arbeidersparty, afgevuur. Die Tories het meer as 1300 munisipale setels verloor, terwyl die Arbeidersparty 82 verloor het. Kiesers het na talle ander partye en veral onafhanklike kandidate gestroom.

Vanjaar se Europese verkiesing sal die sterkste bevestiging in dekades van nasies en volkere in Europa se behoefte na soewereiniteit wees. Peilings in lande en streke soos Hongarye, Italië, Katalonië en Vlaandere bevestig dit reeds. Wat in Brittanje gebeur sluit hierby aan. Die Konserwatiewe Party gaan waarskynlik ‘n vernietigende nederlaag ly en indien die party nie binne die volgende paar maande daarin slaag om ‘n Brexit-ooreenkoms in die Britse parlement goed te keur nie, kan Theresa May se regering tot ‘n val kom en kan die Tories hul grootste nederlaag nog ooit in ‘n algemene verkiesing beleef.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Volgende artikel

NAMPO


Thumbnail
Current track

Title

Artist