“Ek wil nie hê jong witmense moet weggaan nie, en ek sou hulle aan bome vasbind as ek kon”

Deur on Apr 12, 2019

Nuuskommentaar: 12 April

Op Dinsdag, 9 April, het President Cyril Ramaphosa, as deel van sy verkiesingsveldtog, ‘n besoek aan die Wes-Kaap afgelê.  Na afloop daarvan dat hy gepraat het oor hoe hy die treine op tyd sal laat loop, en hoe daar meer treine na die Wes-Kaap sal kom na die verkiesing, het hy na Beyerskloof Wynlandgoed vertrek.  Een van die opmerkings wat die President daar gemaak het, het redelik opspraak gemaak, en is sedertdien veelbespreek.  President Ramaphosa het gesê “Ek wil nie hê jong witmense moet weggaan nie, en ek sou hulle aan bome vasbind as ek kon”.

Alhoewel die meeste mense waardering het vir so ʼn tong-in-die-kies opmerking se skerpheid, steek daar baie meer agter President Ramaphosa se opmerking, wat nie so eenvoudig is soos ontlontende humor in ʼn skare van opponente nie – opponente juis omdat die Beyerskloof-omgewing tradisioneel ʼn sterk DA-omgewing was, en volgens tussenverkiesings se resultate, steeds in die toekoms sal wees.

President Ramaphosa se opmerking toon die hartseer realiteit aan dat jong witmense in hul massas op pad is na die buiteland, en hul skaars vaardighede met hulle saamneem.  Hy is deeglik daarvan bewus dat hierdie skaars vaardighede, soos mediese vermoëns, finansiële bestuursvermoëns, en konstruksie-, beplanning-, en bestuursvermoëns reeds in tekort is, maar ook dat hierdie vaardighede selfs meer waardevol sal word in die toekoms, soos wat Suid-Afrika se bevolking, en die behoefte aan dienslewering, teen ʼn eksponensiële snelheid groei.  Eenvoudig gestel, hy wil graag hê dat hierdie jongmense moet bly, en Suid-Afrika moet opbou – hys tel dit ook in daardie presiese woorde.

Die paradoksale gedeelte van President Ramaphosa se opmerking is egter dat hy heel moontlik wit jongmense werklik aan bome sal moet vasbind as hy wil keer dat hulle weggaan.  Swart Ekonomiese Bemagtigingswette straf pasafgestudeerde studente, wat van Apartheid niks geweet het nie, en veroorsaak vir hulle ʼn dilemma: In Suid-Afrika werk en onder jou potensiaal funksioneer, wat jou toekomstige bevordering en inkomste potensiaal sal kelder, of jou tassies pak en gaan verdien wat jy werd is in een van die vele lande wat die waarde van jou vermoëns meer waardeer as jou eie regering?  Statistiek sal aantoon watter keuse jongmense maak wanneer die realistiese kans op werk in ʼn ander land te voorskyn kom.

President Ramaphosa hoef maar net een ding te doen om jong wit Suid-Afrikaners te kry om in Suid-Afrika te bly – hy moet die deure na die werkplek vir hulle ten volle oopmaak. (Beter dienslewering sal natuurlik ook help, maar laat ons een probleem op ʼn slag takel).  As daar gelyke kanse op bevordering is, as meriete nie net die eerste oorweging vir ʼn aanstelling is nie, maar die enigste oorweging word, soos wat dit behoort te wees, dan sal dit nie nodig wees om enigiemand aan enige bome vas te bind nie.

Jong Suid-Afrikaners, veral jong wit Suid-Afrikaners, na wie die President spesifiek verwys, gaan soek nie na groener weivelde uit arrogansie of gierigheid nie, President Ramaphosa, hulle gaan omdat hulle nie op die plaaslike weiveld toegelaat word nie.


Laat 'n boodskap
  1. Erna van Staden   On   Apr 12, 2019 at 10:52 pm

    Ramaphosa is n produk van die ANC en het ryk geword deur die party en wit Afrikaners wat hierdie land opgebou het….wat het die regerende party, ANC tot dusver gedoen,?
    Hul het nog net fie ekonomie en enige instelling afgebreek en vernietig!!
    Watter belaglike lafhartige uutlating van n president!!! Hul kan nie bestaan sonder die belasting en sorg van witmense nie!@!

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist