Einde van integrasieprojek in Europa

Deur on Apr 9, 2019

Nuuskommentaar: 9 April

Terwyl die Brexit-sirkus voortduur en politieke partye regoor Europa hul veldtogte vir die Europese verkiesing volgende maand loods, ontstaan daar meer en meer vrae oor die volhoubaarheid van integrasie en samewerking in Europa.

Europese integrasie en veral die tot stand koming van die Europese Unie was grootliks ’n reaksie op die verwoesting van die wêreldoorloë en die persepsie dat integrasie en samewerking ’n oplossing vir die probleme wat ongelyke magsverhoudinge skep, sou wees.

Sedert die oprigting van die Duitse eenheidstaat in 1871, is Duitsland as te groot, te ryk en te magtig vir Europa beskou. Dit het mettertyd tot konflik met veral Frankryk en die Britte in die Weste en die Russe in die Ooste aanleiding gegee.

Na die Tweede Wêreldoorlog was Duitsland een van die eerste sewe Europese lande wat integrasie in werking gestel het. Sedertdien is Duitsland ’n groot voorstander vir groter politieke en ekonomiese integrasie in Europa.

Hoewel die eertydse militêre aggressor, deesdae ’n lammetjie is, word Duitsland se enorme ekonomiese sukses in baie ander Europese lande as ekonomiese aggressie beskou. Die Duitsers handhaaf ’n handelsoorskot met die meeste ander Europese lande en die sukses van die Duitse ekonomie word veral in die suide van Europa met jaloesie bejeën.

Weens Duitsland se ekonomiese sukses het die land oor die afgelope paar jaar ook toenemend leiding gegee op ander gedeelde terreine. Angela Merkel se hantering van die vlugtelingekrisis is ’n goeie voorbeeld van Duitse optrede wat tot spanning met ander Europese lande aanleiding gegee het.

Terwyl ’n meerderheid van Britte ten gunste van uittrede uit die Europese Unie gestem het, blyk dit dat ’n meerderheid van burgers in die EU se oorblywende 27-lidlande steeds ten gunste van eenheid is. Wat egter oor die afgelope paar jaar verander het is, dat ’n meerderheid van mense in talle Europese lande deesdae teen groter eenheid en integrasie gekant is.

In Italië, een van die grootste bevolkings en ekonomieë in Europa, is daar reeds ’n regering aan bewind wat uitgesproke skepties is oor enige verdere integrasie. Italië stel inderwaarheid ’n hervorming van die Europese Unie voor.

Dit is egter nie net in Italië waar politieke partye wat teen verdere integrasie gekant is, opgang maak nie. Regoor Europa groei die steun van partye wat die mag van die Europese Unie wil beperk en die soewereiniteit van lidlande wil bly verseker. Die meeste van hierdie partye gaan volgende maand sterk groei in die Europese verkiesing toon.

Rob Ford, ’n professor in politiek aan die Universiteit van Manchester, verwys na nuwe verdelingslyne wat regoor Europa ontstaan en wat groter integrasie gaan verhoed. Volgens hom is die belangrikste sake wat tans in Europa verdeeldheid aanvuur nasionale identiteit, immigrasie, multikulturalisme, etnisiteit en sosiale waardes.

Onderleiding van Matteo Salvini gaan daar waarskynlik na die Europese verkiesing een nuwe blok van Euroskeptiese partye in die Europese Parlement gevorm word. Hoewel Europa en die EU nog lank nie uit mekaar gaan spat en in konflik gaan verval nie, is dit toenemend duidelik dat die toekoms van Europa deur ’n nuwe soort realisme gekenmerk gaan word en dat groter integrasie onwaarskynlik is.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist