Die waarde van die opposisie

Deur on Jul 1, 2019

Nuuskommentaar: 1 Julie

Die jongste verslag van die ouditeur-generaal is nou reeds ou nuus – ou slegte nuus wat net al slegter raak.

Dit staan in skrille kontras van ’n voormalige minister van plaaslike regering en tradisionele sake wat dit ten doel gestel het om teen 2014 100 persent skoon oudits van die munisipaliteite te verwag. Hy self is in 2012 oorlede, maar die gewenste uitslag van sy operasie Skoon oudits sou hy nooit beleef het nie. Trouens, teen die huidige tempo van agteruitgang lyk dit of die land teen 2024 met ’n honderd persent druipsyfer gaan sit.

Die enigste brokkie goeie nuus is dat 13 van die 18 munisipaliteite wat skoon oudits verwerf het, in opposisiehande is.

Ongelukkig dui die tabelle nie aan of die 13 deur die DA alleen, of deur die DA in koalisie bestuur en regeer word nie. In die verlede het dit al talle kere gebeur dat ’n enkele lid van ’n klein, deelnemende party misstappe in wording voorkom het.

Die belangrike les hieruit is die waarde van ’n party in beheer wat op eerlikheid en die aanvaarding van verantwoordbaarheid ingestel word. En as ’n koalisievennoot nog hierby hand bysit, is dit soveel te beter.

Dan sien ons werklike opposisiepolitiek in aksie.

Die ANC daarenteen sit met volop eier in die gesig. Om jaar na jaar die kreeftegang te gaan, terwyl die een kuur na die ander voorgehou word, is nie net sleg nie, dis ’n skande.

Het die ANC dan nie beter mense nie? Of het hy net nie die mense wat hy as eerstens lojaliste beskou, met bekwaamheid as vae bysaak, in sy geledere omvou nie?

Trouens, die toedrag van sake bewys dat die ANC ook op die amptenaarsvlak, wat veronderstel is om a-polities te wees, voorkeur aan eie kaders te gee. Dit is duidelik dat die vermoë om die werk te kan doen, nie swaar weeg nie. En nog erger, ook die wil of vermoë om dan in die praktyk te leer om die werk te doen, ook ontbreek.

Die ironie is dat die ANC gereeld planne het om die aantal provinsies te verminder, nadat daar aanvanklik sprake was om heeltemal met provinsies weg te doen. Die idee sou wees dat munisipaliteite minstens sommige van die provinsiale funksies oorneem. Deesdae is die fokus op minder, maar groter en meer lewensvatbare munisipaliteite om die wa deur die drif te sleep. Maar geen enkele metropool kon daarin slaag om ’n skoon oudit te verwerf nie. Dit lyk dus of die ANC, eerder as om sake reg te ruk, van ’n paar klein probleempies, ’n paar baie groot probleme maak. Dit lyk ook nie of munisipaliteite wat die mas probeer opkom deur konsultante te huur, of wat onder administrasie geplaas is, enigsins beter vaar nie. Trouens, in sommige gevalle blyk dit dat daar ongerymdhede was met die befondsing van die konsultante se dienste.

Dan bly die konsep van besparing ook nog die munisipaliteite ontwyk. Terwyl die minister van Finansies ’n bo-perk van R700 000 vir ampsmotors wil stel, is Salga bitter ongelukkig daaroor. En dis darem ook nie of ’n R700 000 se ryding ’n rokende tjorrie is nie. Die drankkabinet en GPS mag dalk ontbreek, en die kar mag dalk nie koeëlvas wees nie, maar dis geen skedonk wat vir bakstene onder die aste bestem is nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist