Die vlag het ‘n ander benadering nodig

Deur on Sep 2, 2019

Nuuskommnetaar: 2 September

Die onlangse uitspraak van die Gelykheidshof in die saak van Nelson Mandela Foundation v Afriforum bied vir ons ‘n besondere geleentheid – om te sien hoe ‘n taboe gevestig en geformaliseer word.

‘n “Taboe”, in die tegniese sin van die woord, verwys na ‘n verbod wat deur ‘n bykans ‘n hele samelewing eerbiedig word – en word regoor die wêreld aangetref; dit is die natuurlike geneigdheid van samelewings om taboe’s te ontwikkel.

Dit mag dan, dalk, van belang wees om samelewings te bestudeer aan die hand van daardie taboe’s – om iets meer te verstaan van die mense wat daardie taboe’s daargestel het.

Wat is daardie ding wat hulle as absoluut onaanvaarbaar ag? Watter gedrag behoort jou dadelik bloot te stel aan daardie strawwe wat ‘n samelewing tot sy beskikking het?

Toenemend, in Suid-Afrika, word taboe’s klaarblyklik nou aangeneem en afgedwing deur howe. Dit sou baie anders kon wees – veral in ‘n land met soveel etniese diversiteit.

Een moontlike model vir ‘n hof om om te gaan met hierdie diversiteit sou wees om homself ‘n arbiter of bemiddelaar te ag van die belange van verskillende groepe in Suid-Afrika.

Dit sou beteken dat hy homself, dus, sien as ‘n instelling wat probeer om ‘n diverse samelewing as ‘n gegewe neem en poog om regverdige vrede tussen die lede van daardie samelewing te handhaaf.

Hierdie benadering sou ook ‘n ander tipe regspraak tot gevolg moes hê. So sou vryheid van spraak van kernbelang wees in so ‘n samelewing – hoe sou mens, immers, kon onderhandel, stry en versoen sonder om te kan kommunikeer?

‘n Arbiter se rol is nie om die partye tot ‘n geskil stil te maak nie. Alles behalwe! Hy behoort juis ‘n gesonde gesprek aan te moedig – alles om uit te kom by ‘n gemeenskaplike verstandhouding.

In stede daarvan handhaaf die hof ‘n baie ander beskouing van sy rol in Suid-Afrika.

Deur homself die mag toe te eien om te kan besluit oor wat taboe is en wat nie, is die hof onmiddelik besig om sy eie rol te verskraal van arbiter tot ‘n party in die geding.

Hier word ‘n bepaalde lees van die grondwet gebruik om ‘n baie spesifieke visie van ‘n homogene Suid-Afrikaanse samelewing daar te stel. Enige uitdrukking (en, soos die geval was in talle ander sake deur Suid-Afrikaanse howe, enige identiteit) moet eers aan hierdie standaard gemeet word voordat dit oorweeg mag word vir insluiting.

In hierdie saak het die hof nie die tafel gedek vir bespreking en onderhandeling nie. In stede daarvan het hy homself as hekwagter aangestel – en besluit nou watter identiteite is aanvaarbaar vir deelname aan die gesprek.

Hierdie benadering is egter fundamenteel werklikheidsvreemd. Ongeag of die hof sekere etniese identiteit en vorme van uitdrukking toelaat, sal hulle egter steeds bly bestaan.

Die ironie is dat die vlag, voor hierdie uitspraak, vir alle praktiese doeleindes, wél iets soos taboe was vir baie.

Die feit dat die vlag soveel oplewing tans beleef – ondanks die feit dat talle selfs in Afrikaner-kringe ‘n afkeur daarin het – is niks anders as ‘n fundamentele rebellie teen die hof se opeis van ‘n morele outoriteit wat hy geen reg het om te besit nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist