Die President hét die mag om die land reg te ruk

Deur on Aug 16, 2019

Nuuskommentaar: 16 Augustus

‘n Gewilde verskoning vir die gebrek aan leierskap van President Cyril Ramaphosa, is dat hy graag die land wíl regruk, maar ongelukkig nie kán nie. Die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat sy posisie nie sterk genoeg is nie as gevolg van die verdeeldheid en politieke “burgeroorlog” in die ANC.

Hierdie verskoning hou nie water nie. Dit is natuurlik so dat hy ten spyte van ‘n verkiesingsfonds van ‘n paar honderd miljoen rand, net naelskraaps in Desember 2017 as ANC presient verkies is. Dit is ook so dat die ANC diep verdeeld is en dat ‘n faksie onder leiding van die Party se Sekretaris Generaal, ACE Magushule, hom openlik beveg. Daarby is daar nog Zuma-aangestelde persone soos die Openbare Beskermer, wat lyk of hulle Grondwetlike instellings misbruik om Ramaphosa se blabse te gebruik om hom te probeer kelder.

Maar daar Ramaphosa het as President van die land geweldige mag weens sy Grondwetlike aanstellingsmagte. Die vorige Adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke, het al tydens sy ampstermyn gesê dat die Grondwet te veel mag in die hande van ‘n President plaas, deurdat hy die belangrikste sleutelaanstellings kan maak. Zuma kon dit regkry om die staat te kaap, deur hierdie magte te misbruik om sy lojaliste regdeur die staat aan te stel. Ramaphosa kan mos daardie selfde magte gebruik om die land weer reg te ruk.

Aanstellings

Ingevolge die Grondwet stel die President Ministers aan, hoofde van Nasionale Staatsdepartemente, die Hoofregter en ander Regters in oorleg met die Regterlike Dienskommissie, die hoofde van die Weermag, die Polisie, die Geheime Dienste, die Hoofde van die 715 Openbare ondernemings soos die SABC, Eskom en die Lugdiens, asook sleutelinstellings soos SARS en die Goewerneur van die Reserwebank. Maar dis nie waar dit ophou nie. Hy stel ook die hoofde en lede van die artikel 9 Grondwetlike Instellings aan wat oor die Grondwetlike Demokrasie moet waak, onderhewig aan die aanbeveling en goedkeuring van die ANC-beheerde Parlement.

Hierdie is grondwetlike instellings soos die Openbare Beskermer, die Ouditeur Generaal, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Menseregte Kommissie en ander Grondwetlike liggame. Daarbenewens het mnr Ramaphosa as ANC leier ‘n groot invloed in die aanwysing van Provinsiale premiers, Uitvoerende Burgermeesters en ander invloedryke besluitnemers soos die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid (Valke).

Instellings

Mnr Ramaphosa het as ANC-leier wel nie die mag om die Party se verkose Sekretaris generaal te ontslaan nie. Maar hy kan bloot toesien dat daar goeie aanstellings gemaak word en dat die land se instellings hulle werk begin doen. Indien die hoofde van die Polisie, die Valke, die Openbare vervolger byvoorbeeld bekwaam en onbevooroordeeld is, lyk dit op die oog af of daar oorgenoeg redes is om mnr Magushule krimineel te vervolg.

Net een of twee sulke hoëprofiel vervolgings wat suksesvol deurgevoer word, sal die land se vertroue in die Strafregstelsel begin herstel. Hierdie vertroue sal dadelik begin deurspoel na die ekonomie, omdat dit ‘n aanduiding is dat die oppergesag van die reg weer begin geld.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist