Die President Droom van ʼn Stad – Ek droom van ʼn land

Deur on Jun 26, 2019

Nuuskommentaar: 26 Junie

Ek droom van ʼn land  waarin alle mense werklik vry kan wees. Vry om ten volle Suid-Afrikaner te kan wees, vry van kunsmatige rasbeperkinge en vry van haat en beskuldigings.

Ek droom van ʼn land  waarin mense mekaar respekteer vir elkeen se diverse kulturele, taal ek geloofsagtergrond  en nie voortdurend die raskaart speel nie.

Ek droom van ʼn land  waarin ons ryke diversiteit erken en waardeer word en die waarde van moedertaal-onderwys vanaf primêre tot tersiêre vlak ingesien word.  

Ek droom van ʼn land  waar jong mense van alle rasse as gelyke Suid-Afrikaners beskou word met die uitfasering van regstellende aksie. ʼn Land waarin meriete die basis is vir aanstellings en nie velkleur of politieke onderdanigheid nie.

Ek droom van ʼn land  waar  duisende addisionele polisiemanne in diens geneem, behoorlik opgelei en vergoed en die strate ingestuur word om ons te bevry van die golf van misdaad, veral plaasmoorde, en waar  ons ‘n effektiewe strafregstelsel het.   

Ek droom van ʼn land  waar die aanstelling van politieke kaders in die staatsdiens en staatsinstellings soos die SAL, en ESKOM en vele meer met onmiddellike effek gestaak en waar kundige, bekwame en ervare mense afkomstig uit alle rasse aangestel word.

Ek droom van ʼn land  waar SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) gestaak word met die besef dat die politieke elite net nog ryker word.

Ek droom van ʼn land  waar stadsrade en provinsiale regerings verplig word om aandag te gee aan prioriteitsake soos gesondheid, onderwys, behuising en vele meer, eerder as om die beskikbare fondse te verkwis op luukse motors en plek –en straatnaamsveranderinge.

Ek droom van ʼn land  waarin kundige en ervare boere ons produksiepotensiaal ten volle ontsluit en ʼn land waarin daar in samewerking met georganiseerde landbou suksesvolle metodes van grondhervorming geïmplementeer word.

Ek droom van ʼn land  waarin elke individuele lid van die kabinet persoonlik aanspreeklik gehou vir mislukkings in sy/haar departement en die president nie skroom om wanpresteerders af te dank nie. 

Ek droom van ʼn land  waarin korrupsie in die privaat sowel as openbare sektore met mag en mening bestry word en die miljarde wat jaarliks verlore gaan op die manier effektief deur die staatskas aangewend word.

Ek droom van ʼn land  waarin die miljoene Suid-Afrikaners wat afhanklik is van maatskaplike toelaes eerder bemagtig word sodat hulle toegevoeg word tot die miljoene Suid-Afrikaners wat tans belasting betaal.

Ek droom van ʼn land  waarin die kundige en ervare mense wat deur die jare uitgewerk is by munisipaliteite weer aangewend word by die munisipaliteite waar dienslewering effektief tot ‘n einde gekom het, watersuiweringswerke dreig om riviere verder te besoedel en infrastruktuur stelselmatig ten gronde gaan.

Ek droom van ʼn land  waarin elkeen net die beste gesondheidsorg kan ontvang met wêreldstandaard hospitale en klinieke.

Ek droom van ʼn land  waarin elkeen, oud en jonk, as waardige burger gerespekteer word en nie as tweede of selfs derdeklas burgers nie.

Ek droom van ʼn land  waarin sport genormaliseer word met meriete as enigste vereistes en ons nasionale spanne saamgestel word op grond van die beste manne en vroue wat ons tot ons beskikking het en nie op grond van kwotas nie.

Ek droom van ʼn land  waarin elke openbare verteenwoordiger besef dat hy of sy in diens is van Suid-Afrikaners en nie in eie belang optree nie.

Ek droom van ʼn Suid-Afrika wat weer ‘n land word waarin die duisende mense wat Suid-Afrika reeds verlaat het weer wil woon en werk.

Ek droom van ʼn Suid-Afrika waarop ek trots kan wees. Dit is dié Suid-Afrika aan wie ek en baie ander Suid-Afrikaners lojaal wil wees.

Ek droom van ʼn land waarin die President weer sy Ampseed nakom en die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder.

Ek droom van ʼn land  waarin Afrikaners erken word as mense wat alles veil het vir hulle land, wat nie ‘n tweede paspoort het nie en hier in Suid-Afrika wil bly en wie se voorsate nie aanmekaar verdag gemaak word nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist