fbpx

Die pad na selfbestuur

Deur on Okt 11, 2019

Nuuskommentaar: 11 Oktober

Die afgelope week het die boek, “Die pad na selfbestuur”, uit die pen van Flip Buys verskyn. Gegewe sy posisie as voorsitter van die Solidariteit Beweging is Buys se boek insiggewend vir die pad wat dié Beweging in die komende dekades sal inslaan, en die rol wat dit in Suid-Afrika sal speel.

Sy boek is ‘n blik op die toekomsverwagtinge en -planne van ‘n persoon en ‘n groep organisasies wat nie net dink nie, en nie net doen nie, maar albei. Onder Buys se leiding het die Solidariteit Beweging die afgelope kwarteeu gegroei van ‘n klein vakbond tot ‘n wêreldleier op die gebied van selfstandige gemeenskapsinfrastruktuur. Met byna 500 000 lede en met ‘n ongekende uitvoerende vermoë is die Beweging vandag by verre die grootste gemeenskapsorganisasie in Suid-Afrika.

Die afgelope week het die Beweging juis ook sy tweede toekomsberaad gehou. Alhoewel die beraad eintlik vir 2020 geskeduleer was – vyf jaar na die vorige toekomsberaad – is die mylpale wat by die vorige beraad bekendgestel is klaarblyklik vroeër behaal as beplan. Nie net presteer die Beweging nou met privaat skole, universiteite en kolleges, buurtwagte en kultuur, noodleniging en kapitaalmobilisering nie, maar is dit ook toenemend in ‘n posisie om met die regering te beding vir ‘n beter bedeling in Suid-Afrika. Vir wedersydse erkenning en respek, vir ekonomiese vryheid en vir algemene voorspoed.

Die uitdagings in Suid-Afrika is welbekend. Die staat slaag op verskeie en toenemende vlakke nie daarin om aan burgers dit te verskaf wat tipies van state verwag word nie. Vir sommige openbare kommentators en ontleders is die antwoord hierop ‘n individuele oefening: byvoorbeeld, om aan verkiesings deel te neem, om op individuele regte aan te dring, of om op relatief abstrakte wyse saam te werk in nie-regeringsorganisasies. Vir Buys is niks hiervan uitgesluit nie, maar in sy boek gaan hy verder. Soos die befaamde Amerikaanse sosioloog, professor Robert Nisbet, beklemtoon Buys die element van gemeenskap en gemeenskappe, naas die belange van individue, vir ‘n florerende samelewing.

Oor die belang van die boek is kenners soos professors Hermann Giliomee, Koos Malan, Danie Goosen en verskeie ander dit eens.

Professor Giliomee skryf in die inleiding: “Hierdie werk van Flip Buys is een van die belangrikste publikasies sedert 1994 oor die huidige stand van minderhede in Suid-Afrika. Geen sinvolle bydrae oor die toekomsopsies van die Afrikaners kan voortaan gemaak word sonder dat hierdie insigryke werk van Buys bestudeer is en deeglik daaroor besin is.”

Alhoewel Buys se werk ‘n strategie en ‘n plan en ‘n denkraamwerk is vir ‘n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners is om te bou en te help skep aan ‘n florerende samelewing aan die suidpunt van Afrika, is dit ook meer. Dit is ook ‘n intellektuele antwoord op ‘n globale uitdaging in ons moderne era, ‘n era waarin die staat as westerse staatsvorm geleidelik ‘n al groter en groter rol in ons maatskaplike bestaan begin speel het. In ‘n tyd wat mense wêreldwyd daaraan gewoond geword het om te eis dat die staat iets doen, wys Buys op die moontlikheid dat gemeenskappe self kan optree. En DIT is ‘n universele boodskap.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist