fbpx

Die mite van ‘n reënboog.

Deur on Okt 7, 2019

Nuuskommentaar 4 Oktober

Die Facebookblad #ImStaying  is tans van die blaaie wat in die kuberruim vuurwerke veroorsaak en hiervan is deur hoofstroom media instellings die afgelope tyd berig.

In die bekendstelling verklaar die administrateurs dat #ImStaying verbind is aan Suid-Afrikaners, aan vroue en manne van alle rasse en godsdienste wat lojaal aan Suid-Afrika is en verder:

“This group is to honour all those who still believe that we as a nation can turn things around. To all those who choose to stay and work together to save this beautiful country we call home! This group belongs to all willing to make a positive difference!”

Die lojaliteit aan, positiewe verskil wat mens kan maak en verbintenis tot Suid-Afrika word geïllustreer met verhale en dade van onderlinge hulp, verdraagsaamheid en die skep van ‘n Suid-Afrikaanse gees.

Sedert die loodsing van die blad enkele weke gelede het die aanhangertal na meer as 400 000 persone gegroei en politici neem hiervan kennis.

Die invloed van sosiale media as meningsvormende mag kan nie buite rekening gelaat word nie; die ‘Arabiese lente’, President Trump se ‘Twiets’, die YouTuber Pewdiepie en Erdogan in Turkye is illustrerend van die impak wat sosiale seepkissies kan maak en verklaar waarom Kommunistiese China die kuberruim onder die duim hou.

Die ontstaan en fenomenale groei van #ImStaying is begryplik, veral in die lig van wat Suid-Afrikaners onder die heerskappy van die ANC en sy handlanger, die EFF, moet verduur.

Korrupsie, oneffektiewe Polisiëring, werkloosheid, grondonteiening, ekonomiese ineenstorting en rasgebaseerde wetgewing is van die wonde waaruit Suid-Afrikaners bloei en vir Mnr Cyril Ramaphosa, ANC-kaders en aanhangsels is dit gemaklik om die skuld kollektief aan blankes, in die besonder Afrikaners en hulle erfsonde, Apartheid, toe te skryf.

Die verhale van #ImStaying verwoord ‘n behoefte aan vrede en voorspoed, aan aanvaarding en verdraagsaamheid, aan hoop en dit hunker na ’n Suid-Afrikaanse gees en identiteit.

Dit herinner enersyds aan die Afrikaner skrywer en digter NP van Wyk Louw se vraag of’ ‘n Suid-Afrikaanse identiteit moontlik is en andersyds die nadenke oor  en die waarskuwing daarteen.

Sedert 1990 poog politici en sosiale argitekte om  ‘n nuwe en gemeenskaplike identiteit te skep:  eers deur die mite van die ‘Nuwe Suid-Afrika’ en later die mite van ‘n ‘Reënboognasie’.

Afrikaners is toe, soos nou weer, aangemoedig om hul taal, kultuur en uniekheid op te laat gaan in  groter identiteite – in die 1950’s, soos Van Wyk Louw aandui, in ‘n Engelse-liberale individualisme en vandag word van Afrikaners verwag om te transformeer en deel te word van die groter (ANC gestempelde) Suid-Afrikaanse gees.

Afrikaners wat hierteenoor hul taal, kultuur, geskiedenis en identiteit koester word gesensureer, tot paria verklaar en gekriminaliseer.

Die koestering van die eie beteken egter nie dat die Afrikaner weier om saam te werk of nie ‘n vry, voorspoedige en vredevolle Suid-Afrika wil bou nie. Die waardering van die eie en unieke beteken nie  dat die Afrikaner nie goeie bande en verhoudings in ‘n diverse Suid-Afrika wil skep en handhaaf nie.

Maar lojaliteit en trou aan Suid-Afrika beteken ook nie dat Afrikaners hulle eersgeboortereg vir ‘n pot goud aan die einde van ‘n reënboog moet verruil en gewillig ‘…iewers ruggelings stort.’


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist