fbpx

Die Kommerwekkende Dubbelstandaarde van Spraak

Deur on Jun 28, 2019

Nuuskommentaar: 28 Junie

Die ANC het Maandagmiddag kriminele klagtes van crimen injuria en aanhitsing tot geweld teen die sanger, Steve Hofmeyr, by die Johannesburg Sentraal polisiekantoor gelê. Die besluit om hierdie klagtes teen Hofmeyr te lê, volg nadat Hofmyer die afgelope week ‘n opspraakwekkend twiet geplaas het waarin hy vir Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, Zinzi Mandela-Hlongwane en die DA-lid van die parlement, Phumzile Van Damme gemerk het.

Hofmeyr se twiet lees:

“Dear @zilevandamme and @ZindziMandela I’m a South African tax-paying citizen. Effectively, I AM your boss. You WILL jump when I say so and you WILL ask how high. And when you come to take our lives&land, you WILL die. Our contract is that simple. And don’t you forget it.”

— Steve Hofmeyr (@steve_hofmeyr) June 18, 2019

Die presiese reaksie oor hierdie twiet is egter ‘n kommerwekkende tendens wat besig is om die Suid-Afrikaanse regstelsel te deurdring asook ‘n verdere bevestiging van die voor die hand liggende dubbelstandaarde wat al meer algemeen raak.

Vanuit ‘n regsoogpunt is die klagtes teen Hofmeyr lagwekkend. Mens hoef nie met die inhoud of die stemtoon van Hofmyer se twiet saam te stem om te besef dat daar redelike regsgimnastiek beoefen moet word om die twiet by die misdrywe van crimen injuria en aanhitsing tot geweld uit te bring nie. Hofmeyr het eenvoudig ‘n bepaalde eindresultaat voorgestel op die voorwaarde dat daar ‘n bepaalde gebeurtenis plaasgevind. Eenvoudig gestel, Hofmeyr het gesê dat hy sal homself, sy familie en sy eiendom sal beskerm indien dit bedreig word. Die inhoud en stemtoon van die twiet kan en mag gekritiseer word maar strafregtelike klagtes is ‘n groot sprong.

Crimen injuria is die wederregtelike, opsetlike en ernstige aantasting van die waardigheid of privaatheid van ‘n ander. In praktyk word ‘n objektiewe toets gebruik of te bepaal of die deursneemens se dignitas (waardigheid en privaatheid) deur die aantasting gekrenk is. Dit is duidelik dat Steve se twiet nie enigsins iets uitspreek oor die waardigheid of privaatheid van Van Damme of Mandela-Hlongwane nie.

Aanhitsing tot geweld word bepaal in artikel 18 (2) van die Wet op Oproerige Byeenkomste, Wet 17 van 1956 as die aanhitsing, aanbeveling, in werking stel of aanskaffing van enige ander persoon om ‘n misdryf te pleeg. Weereens is dit duidelik dat Hofmeyr se twiet nie aan hierdie definisie voldoen nie. Daar is geen direkte aanhitsing tot geweld nie. Die dreigement van geweld deur Hofmeyr is afhanklik van ‘n oortreding van die reg deur ‘n ander persoon. Verder kan daar ‘n sterk argument gemaak word dat die hipotetiese geweld wat Hofmeyr mee dreig regverdigbaar is in ag genome die konteks waarin Hofmeyr beweer hy homself daartoe sal wend.

Vanuit ‘n suiwer regsoogpunt behoort hierdie klagtes met ‘n knippie sout geneem te word. Maar ongelukkig weet ons dat die reg nie altyd geregtigheid in Suid-Afrika laat geskied nie en dat politiek al meer gereeld die oorhand kry.

Ons leef werklik in ‘n waansinnige wêreld waar politici vuurwapens tussen groepe mense kan afvuur en leiers direk hulself kan oproep tot geweld sonder enige nagevolge terwyl ‘n vermaaklikheidskunstenaar deur die land se grootste politieke party aangevat word. Die duidelike selektiewe woede en verontwaardiging grens aan Orwelliaanse gedagte polisiering waar die aanvaarbaarheid van spraak bepaal word aan die hand van wie die spraak uitoefen.

Die dubbelstandaard raak meer verbysterend met elke nuwe dag se nuussiklus.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist