Die een goeie ding in Gauteng se provinsiale rede

Deur on Jul 8, 2019

Nuuskommentaar: 8 Julie

Dit is moeilik om doekies om te draai as mens probeer sin maak van Gauteng premier David Makhura se provinsiale rede van verlede week. Dit blyk dat, soos President Ramaphosa, die Premier ook ly aan ‘n unieke vorm van tsetsevlieg-slaapsiekte – een wat gepaardgaan met talle drome en min planne.

Afgesien van hierdie, en legio ander, probleme, is daar egter een silwer randjie te vind in hierdie toespraak. In kontras met hoe talle ander provisies tradisioneel deur die ANC regeer word, was hierdie toespraak plek-plek deurspek met die idee van Gauteng-spesifieke belange wat gediens sal moet word deur Gauteng-spesifieke ekonomiese en sosiale beleid.

Interessant genoeg is dit nie soseer vervat in dit wat die premier self  gekies het om te sê nie, maar eerder in daardie dinge wat hy genoop was om te sê vanweë sy provinsie se unieke omstandighede.

Gauteng maak slegs ongeveer 1.5% van Suid-Afrika se grondoppervlakte uit maar lewer ongeveer 35% van sy BBP. Een uit elke vier Suid-Afrikaners woon in Gauteng, met lewenstandaarde vergelykbaar met die van die Wes-Kaap. Persentasiegewys is Gautengers, van alle Suid-Afrikaners, ook die mins waarskynlike om maatskaplike toelae te ontvang.

Wat sou mens verwag van ‘n bevolking wat so verskil van die in die ander provinsies? Soos in die geval van die Wes-Kaap is dit te verwagte dat, mettertyd, daar ‘n duidelik onderskeid sal ontstaan tussen dit wat vir Gauteng voordelig is, en dit wat vir die res van die provinsies.

So ‘n onderskeid is fataal vir die strategie waarmee die ANC tot op hede sy provinsies regeer het, wat staak maak op ‘n nasionale agenda, nasionale belange en – belangrik – fondse wat nasionaal beheer en toegedeel word.

Dit is veral laasgenoemde – nasionale fondse – wat verantwoordelik is vir talle van die ANC se beleidsflaters. Nadelig beleide kan uitgevoer word omdat politici gebruik kon maak van een van die oudste truuks in die boek: sigbare voordele wat onsigbare kostes dra.

Hoeveel kos ‘n R800 toelaag ‘n individuele belastingbetaler, byvoorbeeld? Aan die een kant van die vergelyking is ‘n kieser wat duidelik kan sien dat die regering vir hom geld in die hand gee – en aan die ander kant is honderde belastingbetalers wat nie eers die addisionele las in hul belastingsopgaaf kan bespeur nie.

‘n Sterker onderskeid tussen Gauteng se belange en die van ander provinsies versteur egter hierdie briljante strategie. Hier word dit toenemend duidelik dat ‘n klein geografiese gebied moet pa staan vir groter en groter gebiede se finansies.

Hierdie verskynsel is baie sigbaar in die E-tol verskynsel. Gauteng subsidieer talle ander provinsies se paaie – maar moet nou ekstra betaal vir sy eie.

Hoewel hierdie belowend, sou dit voortydig wees hieroor oor-optimisties te wees – dit is geensins duidelik dat die Premier só aan Gauteng se situasie dink nie. So ook is dit nie duidelik dat sy kiesers onder daardie indruk verkeer nie.

Ons sien egter reeds skadu’s van hierdie impuls selfs in Premier Makhura se provinsiale rede, ‘n toespraak wat in alle ander opsigte – Karl Marx aanhalings inkluis – heeltemal binne die ANC se ideologiese kraal inpas.

Dit beteken allermins dat die ANC skielik gaan oorslaan na sinvolle ekonomiese beleid in Gauteng  – maar dit is ‘n saadjie wat, met politieke stabiliteit en versigtige sorg, dalk mettertyd kan groei en vrugte dra.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist