fbpx

Dag Zero vir SA se universiteite?

Deur on Jul 12, 2019

Nuuskommentaar: 12 Julie

Met Dag Zero wat ʼn bekende term in Suid-Afrika geword het, kan die vraag tereg gevra word of Dag Zero ook besig is om aan te breek vir ons universiteite, en indien moontlik, hoe dit vermy kan word.

Groeiende staatsafhanklikheid

Die regering is tans die enkel grootste bron van inkomste vir universiteite in Suid-Afrika, met staatsbesteding aan universiteite wat, volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) van R6,7 miljard in 2001-’02 tot R32,9 miljard gedurende 2015-’16 gegroei het. Met ʼn groei van 390,9% oor dié tydperk is dit duidelik dat universiteite toenemend afhanklik van die staat geraak het as die enkel grootse bron van inkomste – dis nou te sê as die staat dit natuurlik kan bekostig.

Groeiende staatskuld

Die regering se koste om sy eie skuld te diens, het van R89,4 miljard in 2012 tot R202,2 miljard in 2019 toegeneem. Die uitwerking hiervan is dat meer geld tans (per jaar) bestee word om die regering se skuld te diens as wat in totaal in een jaar bestee word aan die polisiediens (R104,2 miljard), staatsekuriteit en die weermag (R50 miljard) en aan die howe en gevangenisse (R48,4 miljard). Dan is daar egter nog ʼn probleem …

Meer studente

Volgens die SAIRV het studentegetalle van 579 257 in 2001-’02 toegeneem tot 969 154 in 2015-’16, en volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan 5 (NDP 5) moet dit verder groei om 1,6 miljoen per jaar teen 2030 te beloop. Dit gaan natuurlik gepaard met stygende verwagtinge ten opsigte “gratis” hoër onderrig en verhoogde staatsubsidies. Is daar dan ʼn oplossing om universiteite op ʼn ander manier as die staatskas te befonds?

Harvard, Yale en Stanford

Buiten die geykte beginsels van goeie korporatiewe bestuur en instellings wat oor eeue heen opgebou is, blyk dit dat verskeie van die wêreld se grootste universiteite in privaat hande is en met verloop van tyd sterk skenkingsfondse opgebou het wat hulle in staat stel om minder van ander en meer afhanklik van hulself te wees. Harvard spog tans met die wêreld se grootste akademiese skenkingsfonds ter waarde van $39,2 miljard; Yale spog met $29,4 miljard en Stanford met $26,5 miljard. In die geval van sowel Harvard as Yale is die inkomste wat uit hul skenkingsfondse verdien word, hierdie universiteite se enkel grootste bron van inkomste.

Die toekoms van universiteite lê, myns insiens, ten beste in privaat en gemeenskapshande wat natuurlik gepaardgaan met gesonde korporatiewe bestuur, wêreldklasstandaarde en, natuurlik, sterk skenkingsfondse. Die kameel se rug kan ook net so lank hou.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist