fbpx

Caster-dilemma deel van internasionale debat

Deur on Mei 16, 2019

Nuuskommentaar – 16 Mei

’n Jong Vlaamse filosoof en akademikus werp onbedoeld heelwat lig op die redenasies wat oor Caster Semenya geopper word, en van waar die argumente kom.

In sy verhelderende artikel in die dagblad, De Standaard, noem Maarten Boudy nie eens Caster se naam of impliseer dit nie. Hy spreek die verskynsel aan onder die titel, Ook linkses omarmt ontkenners. Diegene wat hy bio-ontkenners noem, en hier plaaslik as Castersimpatiseerders sou deurgaan, vergelyk hy met die bestaan en optrede van klimaatontkenners.

Die ontkenners, en dus ook die bio-ontkenners, stel hy dus as nie-rasionele mense voor wat ander sommetjies as wetenskaplike feite gebruik om die antwoorde op hul sommetjies te vind.

’n Belangrike faset van die bio-ontkenners se gevolgtrekkings is dat hulle basies die andersheid van geslagte ontken. Hulle ignoreer feite wat uit ’n wye spektrum wetenskaplike vakgebiede kom, soos biologie, genetika en ontwikkelingsielkunde. Oorsake vir dit wat mans en vroue onderskei, word veel meer aan opvoedkundige en omgewingsfaktore toegeskryf.

Die mense wat ’n pro-Caster beskouing het, lê dikwels baie klem op menswaardigheid. Hulle stel voor die voet die persoon wat anders as die gewone norm is, soos Caster, as die slagoffer voor. Van ander, wat byvoorbeeld nie deur ’n afwyking bevoordeel word nie, word eenvoudig verwag om tou te staan al het hulle hoeveel natuurlike talent, en al oefen hulle ook hoe hard. Regverdigheid word dus alleen deur ’n bril met eenrigtingglas beoordeel.

Word die grondwet, en spesifiek die handves van menseregte, nie erg vermink deur die selektiewe beroep op grondwetlike regte wat die persoon met sy of haar andersheid moet kan geniet, nie? Alle menseregte mag beperk word, met die voorbehoud dat die beperkings nie van so ’n aard is dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie.

As die reg op regverdigheid so uitgelê moet word dat die individu wat deur andersheid bevoordeel word, nie beperk mag word nie, wat verhinder ’n kleurblinde om aan te dring dat hy nie weens sy kleurblindheid verhinder mag word om ’n vlieënier van ’n reuse passasierstraler te word nie. Of wat as ’n skrumskakel die dag na stut wil verskuif, en dreig omdat daar weens sy liggaamsgewig teen hom gediskrimineer word?

Wie gaan die argument wen? ’n Bekende  bio-ontkenner skryf onlangs dat navorsing oor verskille tussen geslagte haar bloed laat kook. ‘n Ander skrywer meen sy moet haar dan maar gereed maak vir talle bloedkook-sessies, en verwys na ’n nuwe werk met meer as ’n honderd kundige bydraers, wat geslagsverkille juis sentraal plaas. 

Die les is dat voor iemand ’n opinie vorm, moet hy of sy eers die wetenskaplike feite agtermekaar kry. Om die aller-antwoord in die filosofie te probeer vind sal nie deug nie. Uiteindelik word die slagoffer met vooropgestelde uitgangspunte ’n dubbele slagoffer.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist