fbpx

Brexit en die Skotse, Walliese, Noord-Ierse en selfs die mense van Cornwallis se opmars

Deur on Sep 27, 2019

Nuuskommentaar 25 September

Verskeie nuusbronne dui daarop dat premier Boris Johnson se optrede oor Brexit nie net ongelukkigheid onder die Skotte, Wallisers, Noorsd-Iere en die mense van Cornwallis laat eskaleer het nie, maar dat steun téén Brexit toegeneem het, en dat selfs onder die Wallisers wat sedert die 1300’s by Engeland ingelyf is, nou sterker voel oor onafhanklikheid van Brittanje. 

Die nuus het soos ’n skokgolf oor die wêreld gespoel – Brittanje se hoogste hof het premier Boris Johnson se prorogering van die Britse parlement ongrondwetlik verklaar. Baie regsgeleerdes het die uitspraak egter verwag, maar dit het nogtans vir baie as verrassing gekom omdat die koningin eers haar troon-regsadviseurs geraadpleeg het voor sy haar kop in hierdie byenes gesteek het.

Met die Skotse hoogste hof se adviserende uitspraak dat Johnson buite sy magte optree was die skrif eintlik reeds aan die muur, maar Johnson het allerlei geluide gemaak wat daarop gedui het dat hy eerder dood in die sloot sal lê (vir minagting van die hof tronk toe sal gaan) as om kop te gee.

In sy reaksie op die uitspraak het Johnson gesê die uitspraak maak geen verskil aan sy voorneme om Brittanje teen die einde van Oktober, met of sonder ’n ooreenkoms, uit die Europese Unie te lei nie. Hy het egter gesê hy aanvaar die uitspraak, maar stem nie met die regters saam nie. Teen laat gisteraand het die Britse media berig Johnson gaan alles in sy vermoë doen om die parlement opnuut te prorogeer.

Of Johnson inderdaad sy planne sal kan uitvoer is nie so seker nie. Hy het sy meerderheid in die parlement verloor, en die speaker het reeds laat weet die parlement hervat vanoggend sy werksaamhede. Die hof het reeds bevind dat Johnson die koningin mislei het, en hom erg daaroor uitgetrap. Sy sal na verwagting nou enige versoek van Johnson om weer so te maak, erg krities in oorweging neem, terwyl haar regadviseurs haar nie sommer teen die uitspraak van die hoogste hof sal adviseer nie.

Intussen is berig dat die mees onlangse peilings toon dat die Skotte wat nou weer op ’n referendum oor onafhanklikheid van Brittanje aandring op 49% staan, maar dit kan reeds ’n meerderheid wees volgens een peiling. Na raming het vier persent Skotte in die onlangse verlede van mening hieroor verander, en die Skotte se teenstand teen Brexit word as “die enigste rede” vir die swaai genoem. Die leier van die Skotse Nasionale Party (SNP) (wat hom vir Skotse onafhanklikheid beywer) het na die jongste hofuitspraak gesê dit is ondenkbaar dat Johnson as premier aanbly (sy kantoor het laat blyk dat Johnson nie oorweeg om te bedank nie) en het ’n beroep op die premier gedoen om te bedank.

Met die Britse referendum oor Brexit het die meerderheid Keltiese volke binne Brittanje, naamlik die Skotte, die Walliesers en die Noord-Iere teen Brexit gestem. Die grenskwessie tussen Ierland en Noord-Ierland, wat sedert die vredesooreenkoms effektief nie meer bestaan nie, is met Brexit nou ’n brandende kwessie. Die SNP het ook ’n groot optog gereël om teen Brexit bewaar te maak.

Intussen het ’n ou spook weer by Johnson vir diens, om Johnson tot slapeloosheid te treiter, kom aanmeld. Vyftien jaar gelede toe Johnson redakteur van Spectator was, het hy ’n gedig gepubliseer wat die Skotte erg verkeerd opgevryf het. Dit lui onder meer die Skotte is ’n “verminous race” wat “comprehensive extermination” verdien.

Berigte uit Wallis lui dat die hoofminister (first minister), Mark Drakeford, vir Johnson erg gekritiseer het en onder meer gesê het Johnson het die demokrasie geskaad, en dat Johnson se regering alle respek vir die waarheid verbeur het.  Protesoptogte het ook reeds plaasgevind waar vlae met die Walliese rooi draak op, geswaai is. Die media bespiegel oor of die onmin oor Brexit daartoe kan lei dat Wallis sy onafhanklikheid van Brittanje kan opeis.

In Noord-Ierland is die jongste hofuitspraak oor Brexit as ’n groot oorwinning vir alle mense van Noord-Ierland beskryf.

Al meer stemme gaan op vir ’n “Northern Ireland only” oplossing vir veral die grenskwessie.

Selfs Cornwallis wat oor minder selfbeskikkingsreg as die ander Keltiese lande en gebiede beskik, het volgens mediaberigte nou hul mening oor Brexit verander sedert die referendum daaroor. Toe het ’n betreklik geringe meerderheid inwoners vir Brexit gestem, maar aldus die berigte word nou gevoel hulle was nie goed ingelig oor die stap nie, of hulle was selfs mislei. Hulle wil nou weer referendum hou oor die kwessie.

Na berig word voel veral die Wallisers dat die stem teen Brexit nog sterker sou wees as so baie Engelse wat in Wallis woon nie daarvoor gestem het nie.

Dit lyk inderdaad of Johnson die Keltiese onafhanklikheidsdenke aangevuur het. Die implikasies van die Britte (eintlik die Engelse meerderheid) se vermoë om met hul meerderheid die Engelse wil op die Keltiese minderhede af te dwing, is nog selde so duidelik gedemonstreer deur die Brexit-kwessie. Boonop word die ongelykheidstatus tussen Engeland en die Keltiese lande en gebiede gedemonstreer deur die feit dat die Engelse nie ’n eie parlement het nie, en dat die Engels-oorheerste Britse parlement as voldoende hiervoor beskou word.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist