Bird-eiland: Die hoofstuk moet nou word

Deur on Apr 15, 2019

Nuuskommentaar: 15 April

In die afgelope naweek se Rapport het die koerant erken dat hulle fouteer het toe hulle die bewerings wat in die boek ‘Die seuns van Bird-eiland’ gemaak word as feite voorgehou het. Die boek voer aan dat die voormalige ministers Magnus Malan, John Wiley en Barend du Plessis by `n pedofilie-ring betrokke was en kinders op `n nabygeleë eiland gemolesteer het. Du Plessis word nie by name in die boek genoem nie maar die verwysing na hom was van so aard dat hy begin vrae ontvang het oor sy beweerde betrokkenheid en besluit het om self na vore te tree en die bewerings te ontken.

Verlede week, in `n wanhopige poging om geloofwaardigheid in die boek in te blaas het die mede-skrywer, Chris Steyn `n leuenverklikkertoets afgelê. Die vrae, soos gerekende poligrafiste uitgewys het, het egter glad nie gehelp om die bewerings wat in die boek gemaak word te staaf nie. Een kenner sê die toets wat Steyn afgelê het bepaal slegs dat sy haar bronne se weergawes van die gebeure korrek weergegee het. Dit bepaal egter nie of die bewerings in die boek die waarheid was nie. Om dit te bepaal gaan die bronne of die mense teen wie die aantygings gemaak is getoets moet word.

Intussen het die ondersoekende joernalis, Jacques Pauw onthul dat die ander mede-skrywer, Chris Minnie enkele dae voor die boek se publikasie die volgende aan die uitgewer geskryf het: “Ons het geen konkrete bewyse dat enige van die drie ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer het nie.” Minnie het intussen sy eie lewe geneem.

Daar kan dus nou aanvaar word dat die skrywers nie oor die nodige bewyse beskik het om die bewerings in die boek te staaf nie. Sedert 5 Augustus 2018 hang daar `n donker wolk oor die koppe van die persone wat in die boek vermeld word – of hulle dan by name of deur suggestie vermeld word. Ons kan net hoop dat hier `n paar lesse geleer is.

Die eerste les is dat die media altyd bo verdenking moet wees en nie handel met hoor-sê of halwe waarhede nie. Wanneer die publiek iets in die media teëkom moet nie hulle nie twyfel oor die geloofwaardigheid daarvan nie. As daardie verstandhouding tussen media-instelling en Jan Publiek eers verlore is moet die betrokke media-instelling maar vrede maak met die etiket ‘fake news’.

Die tweede les is dat daar te maklik deur die media en Jan Publiek as aanklaer, regter en laksman opgetree word. Drie voormalige hooggeplaastes se reputasies is ernstige skade berokken wat nie sommer herstel kan word nie. Die feit dat die bewerings vir so lank as die waarheid voorgehou is het daartoe gelei dat Malan, Wiley en Du Plessis se nalatenskap ongekende skade gelei het nadat hulle op grond van die bewerings skuldig bevind en veroordeel is.

As daar een les hieruit te leer is, is dit dat geen stelling op `n openbare platform sonder die nodige feite wat dit staaf, gemaak mag word nie.


Laat 'n boodskap
  1. Andries Holtzhausen   On   Apr 18, 2019 at 2:06 am

    Genl Malan en John Wiley behoort die oorlewende skryfster en die uitgewer te dagvaar tot by on Daantjie in die kalwerhok

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist