Beter benadering vir Midde-Ooste nodig

Deur on Apr 29, 2019

Nuuskommentaar: 29 April

Daar lê heelwat waarheid opgesluit in die idee dat baie van die Westerse wêreld se probleme ‘n oorsprong in die Midde-Ooste het. Oor die afgelope twee dekades was dit veral die uitdaging van terreuraanvalle deur geradikaliseerde Moslems, massa-immigrasie veroorsaak deur oorloë in onder andere Sirië, Irak, Afghanistan, Libië en Jemen en die komplekse magsverhoudinge met belangrike rolspelers soos Israel, Turkye, Saoedi-Arabië en Iran wat vir kopsere in die raadsale van Westerse regering gesorg het.

Dit is tog belangrik om ‘n tree terug te gee en onsself aan die historiese belang van die Midde-Ooste te herinner. Die Midde-Ooste is die geboorteplek van sommige van die grootste en belangrikste gelowe in die wêreld. Vir eeue, sedert die Islam na die Bisantynse en Persiese Ryke versprei het, is die Midde-Ooste deur die Ottomaanse Ryk regeer. Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog het daar egter ‘n totale herskikking in die Midde-Ooste ontstaan, een waarby die Weste direk betrokke was en wat vandag steeds onafgehandel is.

Die Weste se rol in die Midde-Ooste is sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog veral gekenmerk deur die skep van nuwe grense en die voortdurende stryd om toegang tot oliebronne. Die ontstaan van Israel as Joodse staat in die Midde-Ooste en veral die intensiewe militarisering van dié land met die hulp van Amerika, het sake verder gekompliseer.

Westerse lande se keuse van bondgenote en die wyse waarop lande en gemeenskappe in die Midde-Ooste met tyd teen mekaar afgespeel is, het dinge oor die afgelope paar dekades ernstig gekompliseer.

Vandag is almal in Westerse lande dit eens dat dit noodsaaklik is dat stabiliteit in die Midde-Ooste verkry moet word ten einde probleme soos terreur en massa-immigrasie te oorkom. Kan die Weste ‘n bydrae tot groter stabiliteit in die Midde-Ooste lewer?

Daar is minstens vyf dinge wat Westerse lande kan doen om hier ‘n bydrae te lewer. Eerstens sal langdurige vrede tussen Israel en die Palestyne en die oprigting van ‘n Palestynse staat ‘n groot bydrae tot stabiliteit in die Midde-Ooste lewer. Amerika kan en moet hier ‘n dringender rol speel.

Tweedens moet Amerika en ander Westerse lande ophou om lande in die Midde-Ooste teen mekaar te gebruik. Die wyse waarop Amerika die afgelope tyd toelaat dat Saoedi-Arabië Amerikaanse beleid in die Midde-Ooste dikteer, is ‘n groot fout.

Derdens moet die verhouding met Turkye herskik word. Die Weste se bondgenootskap met Turkye was oor die afgelope byna eenhonderd jaar van groot belang. Dit kan nie nou verloor word nie.

Liberale utopiese denke, veral ten opsigte van die wonder van Westerse demokrasie, het nie in die Midde-Ooste gewerk nie. Oorloë om dit te vermag was ook ‘n mislukking. Westerse lande moet dit aanvaar met meer pragmaties oor Midde-Oosterse regerings dink.

Dit is noodsaaklik dat Westerse lande met Midde-Oosterse regerings saam werk om betyds die opkoms van terreurgroepe te identifiseer en vinnig en pro-aktief op te tree ten einde te voorkom dat ‘n terreurgroep daarin slaag om momentum te ontwikkel.

Die Midde-Ooste is ‘n komplekse streek, maar die Weste kan en moet ‘n positiewe bydrae tot groter stabiliteit in die streek lewer.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist