As ons maar net wou leer

Deur on Jun 13, 2019

Nuuskommentaar: 12 Junie

Terwyl werkloosheid in verskeie wêreldlande tans onder 4%, en selfs in die geval van Singapoer, onder 3% is, sukkel ons steeds in Suid-Afrika met werkloosheid van meer as 27% – ‘n syfer wat volgens party selfs ‘n optimistiese wanvoorstelling is.

Die rand het onlangs vir die eerste keer in 2019 teruggesak tot meer as R15 vir ‘n dollar, en bo op dit moes ons onlangs kennis daarvan neem dat Suid-Afrika nie meer die grootste goudprodusent in Afrika is nie.  Oor hierdie laaste brokkie nuus kan daar dalk gestel word dat dit gewoon te duur is om goud te ontgin, maar dit sou uit die oog verloor dat gewelddadige betogings en duur brandstof by ontginningskoste gevoeg moet word – en dat beide hierdie kwessies nie as eksterne faktore beskou kan word nie.

As al hierdie punte in ag geneem word, is dit sekerlik nie ‘n onredelike opmerking om te stel dat dit nie tans goed gaan met die Suid-Afrikaanse ekonomie nie.  Een van die primêre redes hiervoor is sekerlik swak ekonomiese beleid wat deur die de facto regering, die ANC se NUK, daargestel is.  Uitsprake oor grond het sekerlik ‘n impak gehad op die hoeveelheid geld wat boere bereid was om in hul grond te belê oor die afgelope 12 maande, wat natuurlik ‘n invloed op die hoeveelheid arbeiders wat in diens geneem word het.  Uitsprake oor die mandaat van die Reserwebank het groot-en-deels bygedra tot die nasionale geldeenheid se onlangse duik, en oorhoofs beperkende arbeidswetgewing hou jongmense uit die werkplek uit.

Die logiese gevolgtrekking behoort sonder twyfel te wees dat die regering uit die pad uit moet kom van hulle wat ekonomiese groei kan bewerk.  Die regering sal nooit in staat wees om alle werkloses in diens te neem nie, dit is fisies en finansieel onmoontlik.  Wat die regering wel kan doen is om letterlik uit die pad uit te kom.  Deur die administrasie wat nodig is om ‘n besigheid te registreer te minimaliseer tot net dit wat werklik nodig is, deur minimumloonvereistes aan te pas vir persone onder die ouderdom van 24 en hulle sodoende ‘n kompeterende voordeel te gee, en deur op te hou om twee boodskappe te kommunikeer, kan die regering vrugbare grond daarstel, waar besighede kan floreer, en ekonomiese groei kan plaasvind.

Om hierdie stappe te neem behoort ook nie vir die Suid-Afrikaanse regering ʼn wesenlike uitdaging te wees nie – hulle kan bloot naboots wat reeds reg oor die wêreld met welslae probeer en uitgevoer is.  Lande wat floreer is lande wat aantreklike omstandighede skep vir groot besighede om handel te dryf – as ons maar net by hulle wil leer, sal ons lysie probleme dalk binnekort heelwat korter kan wees.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist