Adjunk-President David Mabuza; ’n Kat of ’n Vlermuis?

Deur on Jun 20, 2019

Nuuskommentaar: 20 Junie

In die parlement is lede al vergelyk met esels deur Langenhoven, met hoenders, bobbejane en vlermuise.

Watter rol het adjunk president David Mabuza gespeel in die aanwys van die voorsitters van Parlementêre portefeuljekomitees?

Die ANC se top ses moes die name goedkeur. As na name soos Supra Mahumapelo, Faith Muthambi en Mosebenzi Zwane gekyk word, is hulle almal deel van die Zuma groep wat reeds in die Zondo kommissie na staatskaping genoem is. Dit dui daarop dat die Ace Magashule faksie hierdie rondte gewen het. Dit kon moeilik sonder die hulp van adjunk-president Mabuza as een van die top ses gedoen word. 

Is adj.pres. David Mabuza nou ’n kat met nege lewens of ’n vlermuis, sou ’n mens kon vra?

In ’n warm parlementêre debat voor 1994 het een lid ’n ander as ’n vlermuis beskryf. “Hierdie agbare lid het al so baie van standpunt verander; niemand vertrou hom meer nie – daarom is hy soos ’n vlermuis in die dierewêreld. Die voëls vertrou nie die vlermuise nie, want hulle lyk soos muise — en die muise vertrou nie die vlermuise nie want hulle kan vlieg soos die voëls,” het die lid verduidelik.

Mabuza het by die ANC-leierskapkonferensie in 2017 aangekom as ’n groot ondersteuner van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, maar skielik sy steun na Ramaphosa verskuif. Die stemme uit Mabuza se provinsie het verseker dat Ramaphosa net-net met 179 stemme gewen het. In ruil wou Mabuza adjunk-president word.

Die Zuma-faksie vertrou Mabuza nie omdat hy hulle op ’n kritieke oomblik in die steek gelaat het.

Die Ramaphosa-faksie vertrou hom nie, want hulle twyfel oor sy skielike ommeswaai.

In ’n voorbladberig in Augustus 2018 het The New York Times ’n striemende aanval op Mabuza gedoen as een van die beste voorbeelde van Suid-Afrika se korrupsieprobleme.

Van die klagtes teen hom gaan oor die toekenning van tenders en die feit dat ongemagtigde uitgawes in Mpumalanga tydens sy termyn as premier volgens die ouditeur-generaal meer as R35 miljard beloop het. 90% van alle munisipaliteite in die provinsie kon ook nooit ’n skoon oudit kry nie.

’n Sakeman, Fred Daniel, het kennis gegee dat hy nog voor die Zondo-kommissie oor Mabuza wil getuig. Hy het ’n eis van R1,2 miljard teen Mabuza ingestel vir skade wat hy glo weens korrupte grondeise gely het.

“Mabuza sal nooit president word nie,” glo baie Ramaphosa-ondersteuners.

Hoe het Zuma dan president geword?

In 1997 was Winnie Mandela, Phosa, Ramaphosa en Tokyo Sexwale adjunkpresidentkandidate. Mbeki het nie kans gesien om tussen hulle te kies nie. Sy oplossing? Kom ons maak Zuma adjunk-president. Hy kan nooit president word nie, maar kan solank die stoel warm sit. Aan die einde van Mbeki se termyn kan ANC-kongreslede dan Mbeki se opvolger tussen die vier regte aanspraakmakers kies, was die plan.

Gewone ANC-lede het nie van dié plan geweet nie. Hulle het aanvaar die ANC-tradisie is dat die adjunk-president altyd die president word. Toe Mbeki Zuma afdank en so probeer keer dat hy president word, het hy Zuma net ’n martelaar gemaak en ons ken die res van die storie met Zuma president vir nege jaar.

Mabuza, die kat met nege lewens het op ’n slim wyse die ANC se integriteitskommissie gebruik om sy naam skoon te maak.

Nou is hy adjunk-president wat president kan word.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat die Zuma-geskiedenis herhaal word nie. Wat is Mabuza? ’n Kat, ’n vlermuis of dalk ’n wolf in skaapsklere!


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist