6 April 1652

Deur on Apr 8, 2019

Nuuskommentaar: 8 April 2019

‘It was a bright cold day in April and the clocks were striking thirteen.’

So lui die eerste reël van George Orwell se ‘1984’ (Nineteen-eighty-four’) wat sewentig jaar gelede, in 1949, gepubliseer is.

Hierin beskryf Orwell die distopiese wêreld waarin Winston Smith en sy minnares, Julia, onder die wakende oog van ‘Big Brother’ en die ‘Thought police’ die Party se weergawe van die werklikheid nie net moet verduur nie, maar met oortuiging moet aanhang.

Die Party se weergawe van die werklikheid is die enigste werklikheid en die Ministeries van Waarheid en Liefde sien onverbiddelik toe dat die lede van die Party en inwoners van ‘n post-apokaliptiese London, dit wat die Party opdis, huidjie en muidjie sluk.

Winston het hieraan deelgeneem.

Die herskryf van die geskiedenis, nuusberigte en verslae was deel van sy dagtaak en hy moes kennis neem van die ‘Newspeak’, die núwe taal en begrippe, wat die Party voorgeskryf het.

Nou nog word Orwell se boek as ‘n ingrypende boek beskou; ‘n boek wat as teengif vir totalitarisme beskou kan word. 

Maar Orwell se boek dien ook ander temas soos die verhouding tussen taal en moraliteit.

Verskeie skrywers, taal-sosioloë en sielkundiges ondersoek die onsigbare band tussen taal en moraliteit en vind dat taal nie net dien om nuwe of selfs ander betekenisse aan bestaande begrippe toe te ken nie, maar word gebruik om onderskeid te tref tussen wie hoort en wie nie hoort nie.

Taal word gebruik om morele regverdiging vir aksies en optrede te skep en ‘n gedeelde of verdraaide beskouing van waarheid en werklikheid voor te hou.

In Suid-Afrika loop dié Duiwel dubbelspore en dit blyk uit die aanbieding van Jan van Riebeeck wat op 6 April 1652 in die Kaap van Goeie Hoop anker gegooi het.

Met mening word vanaf podiums deelgeneem aan die miskenning van die rol van Jan van Riebeeck en die Nederlandse immigrante en op gereelde grondslag word ‘n ‘Twee-minute’ haatkabaal teen die nageslag, Afrikaners in die besonder, gevoer.

Met fanatiese ywer word taal ingespan om ‘n weergawe van die verlede te skep wat as morele regverdiging moet dien vir die ontheemding van Afrikaners.

Die joernalis, Marthinus van Bart, wys hierop in die Kaap van Slawe (2012).

Hy lui die werk in met verwysings na die skeef-en-krom trek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis

Hiervan is die aanspraak vanaf amptelike weë dat die inheemse bevolkings baie duisende jare voor die koms van Jan van Riebeeck en die Europeërs, die ‘vryheid’ van die Kaap geniet het. 

Dit is ‘n mite, volgens Van Bart, ‘…aangesien die Koina-stam, die sogenaamde Strandlopers, byvoorbeeld, voormalige nomadiese veeboere was wat deur sterker stamme oorweldig en van hul vee beroof is.

Ander aansprake wat as feite voorgehou word is dat Jan van Riebeeck slawe verbied het om godsdienstige byeenkomste te hou. Daarteenoor het Van Riebeeck reeds op 17 April 1658 ‘n skool vir kinders gestig waar godsdiensonderrig aangebied is.

Nie net in hedendaagse toerisme pamflette nie, maar ook in die geskiedenishandboeke vir skole word die Staat of Party se belange nagestreef en ook hierin word Jan van Riebeeck se koms en die vorming en bestaansreg van die Afrikanergemeenskap verdraai.

Dat van Riebeeck ag moes slaan op die VOC se Artikelbrief 115, wat die verslawing van die inheemse bevolking verbied word in die hoek weggesteek en die VOC se verklaring dat die Koina vrye mense is wat nie verower of verslaaf moes word nie, word  afgekam.

Trouens dat die hoofman van die Goringhaicona, Autshomao, in Julie 1657, Van Riebeeck vra vir ‘n veiliger plek tussen Tafelberg en Leeukop, sodat hy sy vyande vanuit die suide kan sien, pas nie by die beeld dat Van Riebeeck  ook ‘n beskermer was nie.

Inteendeel, ‘n gebalanseerde en waarderende beeld van die verlede pas nie die Party en sy lede nie; die soort taal mag nie gepraat word nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist