‘n Les uit Australië vir Trump en ander Westerse leiers

Deur on Mei 20, 2019

Nuuskommentaar: 20 Mei

Oor die afgelope twee jaar het daar ‘n konsensus in Australië ontstaan dat die Nasionale- Liberale koalisie, wat in dié land die sentrum regse en konserwatiewe politieke terrein verteenwoordig, die onlangse verkiesing sou verloor.

Alle peilings wat oor die afgelope paar weke gedoen is, het gewys dat die linkse Arbeidersparty die verkiesing sou wen en oor genoeg setels sou beskik om ‘n nuwe regering te vorm. Die konserwatiewe Australiese Eerste Minister, Scott Morrison het egter vriend en vyand verras toe sy party verlede naweek se nasionale verkiesing gewen het.

Australië is een van die grootste ekonomiese suksesverhale van Westerse lande oor die afgelope drie dekades. Dié land se ekonomie was 27 jaar laas in ‘n resessie en gesonde regerings beleid het daarin geslaag om Australië ‘n middelland van ekonomiese groei, inkomstegroei en ekonomiese stabiliteit te maak.

Terwyl die Arbeidersparty hul verkiesingsveldtog op die verhoging van belasting, die uitbreiding van staatsgefinansierde dienste en veral op strenger omgewingsregulasies om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder, toegespits het, het Morrison een eenvoudige boodskap vir die kiesers gehad: Australië se ekonomie is sterk en ‘n Arbeidersregering sal die stabiliteit versteur wat tot laer groei, hoër lewenskoste en talle ander ekonomiese uitdagings aanleiding sal gee.

Uiteindelik het peilings aangetoon hoe die gaping tussen die konserwatiewe koalisie en die arbeiders kleiner en kleiner raak. ‘n Week voor die verkiesing was die Arbeidersparty met slegs twee persent voor in die peilings. Op stemdag het kiesers in Australië egter vir ekonomiese stabiliteit gestem en is Morrison tot nog ‘n termyn as Eerste Minister verkies.

In die Verenigde State van Amerika sal kiesers volgende jaar in November na die stembus gaan om te besluit of President Donald Trump vir nog vier jaar die staatshoof van die magtigste land in die wêreld sal bly. Hoewel daar enorme verskille tussen die VSA en Australië is soos dat Australië se ekonomie sterk deur kommoditeitsuitvoere aangedryf word terwyl die VSA ‘n veel meer diverse ekonomie het, is daar egter ook politieke lesse vir Trump en selfs ander Westerse leiers uit verlede naweek se verkiesing in Australië te leer.

Die VSA beleef tans een van sy suksesvolste ekonomiese periodes in vele dekades. Die ekonomiese groeikoers van meer as drie persent in die eerste kwartaal van 2019 het almal verras omdat dit hoër as byna elke voorspelling was. Werkloosheid is byna afwesig met selfs groot arbeidstekorte en stygende inkomstevlakke. Geen ekonomie is perfek nie en die Amerikaanse ekonomie het ook sy ongelykhede en uitdagings, maar dit is ‘n feit dat die Amerikaanse ekonomie vandag baie gesond is en dat ‘n gesonde meerderheid van Amerikaners tevrede is met Trump se hantering van die ekonomie.

Terwyl die Arbeidersparty in Australië alles moontlik probeer doen het om Morrison se aandag van sy ekonomiese boodskap na ander sake weg te lei, het hy gefokus gebly en uiteindelik die verkiesing gewen. Indien Trump volgende jaar wil wen moet hy eenvoudig Amerikaners laat verstaan dat daar ‘n ekonomiese risiko bestaan, sou hom uitstem. Indien volgende jaar se verkiesing in die VSA ‘n ekonomiese referendum gaan wees, sal Trump tot ‘n tweede termyn verkies word. Hy kan daardie les gerus by sy Australiese ampsgenoot gaan leer.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist