EU-verkiesing bevestig politieke diversiteit van Europa

Deur on Mei 28, 2019

Nuuskommentaar: 27 Mei

Die verkiesing van lede van die Europese Parlement het oor die afgelope paar dae tot angs, opgewondenheid en onsekerheid in Europa aanleiding gegee. Toe die stemme in die 28 lidlande Sondagaand getel is en die resultate aangekondig is, was dit egter duidelik dat geen enkele kwessie, tendens of beweging regdeur Europa waarneembaar was nie. Die diversiteit van volkere, lande en streke in Europa, elk met hul eie belange en kwelpunte is bevestig.

Die stempersentasie was in die meeste lande besonder hoog en in elk geval hoër as tydens die vorige EU-verkiesing vyf jaar gelede. Terwyl die verkiesing in sommige lande vir verrassings gesorg het, het dit wel die tendense en politieke verskuiwings van die afgelope paar jaar grootliks herbevestig.

Hierdie verskuiwings is breedweg die wegkalwing van die politieke middegrond en die voortdurende agteruitgang van sentristiese partye. In Duitsland het die sosiaal-demokrate verder in duie gestort, terwyl Angela Merkel se sentrumregse Christen-Demokrate nog vyf persent steun verloor het. In die meeste ander EU-lidlande het dieselfde gebeur.

Die groot nuus van die verkiesingsaand was die sterk groei van die groenbeweging in Europa met partye wat ekologiese sake prioriseer, soos die Groenparty in Duitsland, wat enorme groei getoon het. In Duitsland is die Groenes vir die eerste keer ooit die tweede grootste party met meer as 20% van kiesers wat vir hulle gestem het. Ook in die Verenigde Koninkryk, België en Brittanje is hierdie tendens duidelik. Dit was egter nie orals die geval nie en in lande soos Spanje, Oostenryk en Swede het die Groenes steun verloor.

Die opkoms van sogenaamde regse en populistiese partye vertel dieselfde verhaal. Een van die groot verrassings van die verkiesing was die briljante vertoning van Vlaams Belang in Vlaandere in België waar hulle steun van 5% tot 18% toegeneem het. België het ook Sondag hul streeks- en nasionale verkiesings gehou en Vlaams Belang sal nou die tweede grootste party in Vlaandere wees. In Frankryk het Marine Le Pen weer eens daarin geslaag om eerste te eindig. In Italië het Matteo Salvini se Lega-party ook uitstekend gedoen en eerste geëindig en in Brittanje het Nigel Farage se Brexit-party gemaklik eerste gekom. Tog het regse partye in ander lande soos Nederland weer steun verloor.

Wat is die rede vir hierdie teenstrydige tendense? Die redes is eenvoudig dat Europa ‘n diverse kontinent met verskillende volkere en nasies met verskillende prioriteite is. Wat ook nie onderskat moet word nie, is die rol van sterk politieke figure. In Nederland het die sosiaal-demokraat Frans Timmermans sy arbeidersparty met ‘n sterk veldtog gered terwyl die flambojante Thierry Baudet met sy moderne populisme baie steun van die regse Partij voor de Vrijheid weggeneem het.

In Brittanje was Brexit en die swak hantering deur dié land se twee grootste partye van die Brexit-onderhandelinge die hoofrede waarom ‘n nuwe party 35% van die steun kon wen. In Hongarye het Viktor Orban se regse Fidesz meer as 52% van die steun op hom verenig wat ‘n duidelike mandaat aan Orban gee om met sy kragdadige beskerming van die Hongaarse identiteit voort te gaan.

Die uitslag van die verkiesing bevestig dat Europa besig is om te herskik en dat dit juis gebeur nie aan die hand van algemene tendense nie, maar juis volgens die unieke behoeftes van elke volk, nasie en streek.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist